PRINCE ALBERT WRITERS' GUILD 

 

The Prince Albert Writers' Guild

Who's who

The Book

English Reviews

Afrikaans Review

Bestel teen pos

PRINCE ALBERT

  THE STORY WEAVER

 

PRINCE ALBERT - Kweekvallei

Gepubliseer deur die Prince Albert Skrywersgilde

November 2005  

(geskryf in Engels met een Afrikaans hoofstuk)

 

Eben Venter sê ...

Oor Prince Albert en oorlewing 

Prince Albert in die Groot Karoo is ‘n besondere dorp en nou het daar ‘n besondere ‘dorpsbiografie’ daaroor verskyn. Prince Albert (Kweekvallei) word as ‘n terugblik aangebied en is deur die lede van die plaaslike skrywersgilde saamgestel en uitgegee.  

Die soort plaaslik vervaardigde dorpsbiografieë verval dikwels in nostalgiese vertellinge oor die goeie ou dae toe alles gaaf en ordelik verloop het. Sulke terugblikke maak hulle dikwels aan revisionisme skuldig ... Die skrywers van Prince Albert - Kweekvallei poog om met hulle dorpsbiografie ‘n wyer én dieper perspektief aan te bied. Daar is so ‘n bietjie van die taamlik persoonlike trivialiteite (die Luttig-seuntjies trek ‘n stoel onder hulle mondfluitjiespelende sussie uit; die ouderling wat weier om sy huis tot historiese monument te laat verklaar), maar dis duidelik, ook oor die groot maat Engels wat as medium vir die artikels gebruik is, dat die boek saamgestel is met die vele plaaslike en buitelandse toeriste wat die dorp besoek, in gedagte.  

As teenvoeter vir die neiging tot revisionisme is die bydraes van die inwonerskrywers, Maguire en Ohlsen, verfrissend. Maguire teken die voorgeskiedenis van Prince Albert en omgewing vanaf die Vroeë Steentydperk tot die Middelsteentydperk tot en verby die koms van die Europese setlaars. Sy draai nie doekies om oor die onreg, uitbuiting en uiteindelike uitwissing wat die eertydse Khoi en San-inwoners te beurt geval het nie.  

Al wat daar vandag van hulle oorbly, is die relikwieë van hulle werkstuie, immer-verwerende rotskuns, ‘n ringetjie van volstruiseierdop wat miskien om die nek van ‘n bruid of gestorwene gehang het, en die oorblyfsel van Khoi-woorde in Afrikaans, byvoorbeeld gogga, ghoen, koedoe en kwagga. (Ook laasgenoemde kon nie die aanslag van die geweer oorleef nie.)  

Maguire eindig die hoofstuk met die paragraaf: ‘From this time onwards, the trekboers, oriental and African slaves, Khoikhoi, San, bastaards, bastaard hottentos and Oorlams stayed together in Prince Albert. Their descendants still live here today.’  

Die storie van Prince Albert is inderdaad ook die storie van die hele Suid-Afrika. Aan die eenkant is jy dankbaar dat voorvader Zacharias de Beer op 12 Februarie 1762 die plaas genaamd De queekvalleij hier aan die waterryke voet van die Swartberg kom afsteek het. ‘n Kerk, elegante gewels, paaie, wingerde, vrugteboorde en weivelde vir die vetstertskaap het tot stand gekom. Dit was die eerste stappe tot ‘n gedrewe ekonomie en infrastruktuur waarop ‘n westers-georiënteerde gemeenskap kon staat maak en voortbou.  

Aan die anderkant is jy uit die veld geslaan, om die minste te sê, oor die verlies aan die inheemse mense-, fauna- en florarykdom wat die vroeë vestiging van die Europeërs meegebring het.  

Om enigsins die geskiedenis en huidige sosio-ekonomiese toestand van die Khoi- en San-nasate te belig, het Ohlsen ‘n komiese en ontroerende bydrae gemaak. In Rooikamp, die geskiedenis van ‘n vergete buurt leun sy sterk aan op die lewendige vertellinge van ‘n bejaarde inwoner, Baba Lekay, tans van Noordeinde.  

Daar was die speletjies van die kinders soos Anjarie, anjarie al-deur-die-bos; daar was die kerk se brass band en die Sendingkerk self: Laat ons na die Huis van die Here gaan, het bokant sy glasvensters geskrywe gestaan (vandag is die kerk ‘n woonhuis met swembad in sy middelruimte); daar was die name van bome wat op onverstaanbare manier in die volksmond onstaan het, soos ouma Wang se boom; en daar was die name en reputasies van mense: Mister Makkie, die Indiër winkeleienaar, Jan Tops, die koster met sy donkiewa en ene Koos Witbooi met sy trok. Helder onthou Baba Lekay al hierdie dinge en plekke en mense, so helder dat sy veroulaas lewe in die destydse Rooikamp aan die bokant van Prince Albert blaas.  

In die sestigerjare val die bom: die Groepsgebiedewet word uitgevaardig, meeste van Rooikamp se huise gesloop, die inwoners gedwing om na Noordeinde te verhuis. Dit is ‘n tragiese stuk geskiedenis wat hom hier en dwarsoor Suid-Afrika afspeel.  

Verder bevat Prince Albert - Kweekvallei ook ‘n hoofstuk oor kontrei-kookkuns waarin daar soms oorgegaan word tot die blote opnoem van disse en bestanddele; daar is ‘n diepgaande hoofstuk oor die plaaslike geologie - die logika van die aarde - waarin verduidelik word waarom die rotskoppe by Eerste Water soos die gelaagde verfwerk op ‘n Van Gogh-skildery lyk; en daar is die hoofstuk van Milton & Dean oor die natuurgeskiedenis van die Gordon-koppie reg agter die dorp.  

Dié hoofstuk is my persoonlike gunsteling. Met ‘n vrye en vaardige hand word die natuur op die koppie vermenslik in die afdelings: Swaar Tye, Die Storm, Die Ontwaking, Oorvloed, die Rypwording en Wintersnerpkoue. Wat vang die gevlerkte miere aan net na die storm, en waarom; hoekom loop ‘n paar honderd Rooi Sprinkane skielik soos ‘n swart slang teen die stam van ‘n granaatbos op; wat gebeur met die kleur van die mikroskopies kleine ligene na reën; wat maak die skerpioen en erdvark en die arendsuil gedurende die nag, of die witkruisarend gedurende die winter om sy kleintjies te voed? Jy word meegevoer deur die bruisende lewe en uiteindelike verwelking en dood van die natuurskepsels. Jy kry die indruk dat die lewe op Gordon’s koppie sal voortgaan, ongeag wat die mense daaronder aanvang.  

Maar wat vang die mense daaronder aan om die voortbestaan en voorspoed van Prince Albert te verseker? Skrywer Thomas sluit sy hoofstuk oor die erflating van Zacharias de Beer as volg af: ‘Like many other settlements, which once boasted fine landscapes but have succumbed to indifference and apathy about their intrinsic worth, the way in which present-day townsfolk manage the pressures of modernisation of their town and its prescious resources will determine whether Prince Albert remains the “gem in the crown” of the Great Karoo.’  

Dit spreek vanself dat die gewels en landelikheid en watervore die dorp vir toeriste aantreklik maak en so tot die ekonomie bydra, maar die oorlewing van Prince Albert berus op veel meer as net historiese bewaring...  

Eben Venter, Prince Albert, November 2005  

Die Burger - By briewe:

Ek het onlangs in BY die resensie oor die boek Prince Albert - Kweekvallei gelees.

Ons hou nou vakansie op Prince Albert en ek kon die boek self onder oë kry. Wat 'n aangename verassing!

Die geologie van die Swartberg word duidelik en profesioneel beskryf en met sketse toegelig. As ek nou met my fiets teen die legendariese Swartbergpas uitry, kyk ek met ander oë na die onbeskryflike rotsformasies.

Prince Albert - Kweekvallei is 'n boek wat 'n wye verskeidenheid onderwerpe van die dorp, omgewing en geskiedenis uitbeeld.

Rolf Jonker, Boston.

 

PRINCE ALBERT – Kweekvallei

Gepubliseer deur die Prince Albert Skrywersgilde

November 2005  

beskikbaar by die Fransie Pienaar Museum

telefoon: 023 5411 172

e-pos: fransiepmuseum@lantic.net